Weg Ry & Sleep Bull Run 2023

Thu Oct 5, 10:00 - Sun Oct 8, 10:00

Van Wyksvlei

ABOUT

Die Weg Ry & Sleep Bull Run is soos matriekvakansie vir grootmense. Dis ’n naweek van pret, kuier, stof en nuwe vriende van regoor die land wat op Van Wyksvlei in die Noord-Kaap toesak. Dié klein dorpie maak jaarliks hul deure vir ons oop om met ou karre die dorp te kom omkrap en vir ’n naweek weer 16-jaar oud te wees met Pa se karsleutels en reg vir pret.

As jy nog nie by die Bull Run was nie, moet jy jouself skop en dinge in plek kry. Daar is beperkte plek, maar onbeperkte geleentheid om van jou grootste sorge te vergeet en net weer jouself te geniet.

Dit vind hierdie jaar van 5 tot 8 Oktober 2023 plaas.

BASIESE INLIGTING.

Datum: 5 tot 8 Oktober 2023..

Plek: Die Weg Ry & Sleep Bull Run vind in Van Wyksvlei plaas. Dit is ’n klein dorpie in die Noord-Kaap tussen Prieska, Kenhardt, Brandvlei en Carnarvon. As jy nog nie daar was nie, is hierdie een om op jou emmerskoplysie te sit.

Inskrywings kan gedoen word op Quicket. Maak egter eers seker jy het al die reëls hieronder verstaan en gelees. Hier is heelwat nuwe reëls by, so vir die wat al ’n paar jaar kom, of die wat dink hulle ken die reëls, lees dit steeds. Daar gaan geen verskoning wees as jy nie die reëls nakom nie. 

DIE RYGOED

Die rygoed: Dis tog seker die belangrikste deel van alles. Om veiligheid van deelnemers, toeskouers en beamptes te bevorder, is die volgende nuwe reëls uiters belangrik en ononderhandelbaar:

  • Die ouderdom: Die rygoed mag nie jonger as 1985 wees nie. Dit beteken die registrasiedatum op die registrasiesertifikaat moet voor 31 Desember 1985 wees. Voertuie wat na 1985 (Januarie 1986) geregistreer is, sal nie toegelaat word nie. Deelnemers word voortaan versoek om die registrasiesertifikaat saam te bring Van Wyksvlei toe as jy kom om deel te neem, of om dit aan die organiseerders te verskaf sou dit versoek word.
  • Die waarde: Na ’n geween en ’n gekla en ’n gekners van tande het ons die totale begroting opgestoot na R40 000. Dit beteken – die waarde van die kar soos hy daar staan met jou aankoms, mag nie meer as R40 000 wees nie. Dit sluit aankoopprys, lisensiekostes, herstelwerk, nuwe bande, al die verf en plakkers, die klankstelsel en die fur op die dashboard in. Wat nie hierby ingesluit hoef te word nie, is jou inskrywingsfooie, brandstofkostes, en die aanbring van veiligheidsgordels en brandblussers (wat verpligtend is). As jy ’n herhaler is, beteken dit nie jy kry elke jaar R40 000 om op die kar te spandeer nie. Instandhouding op die goed is nie so duur dat jy elke jaar R40 000 moet spandeer nie, en as jy soveel spandeer, is dit duidelik op die verkeerde plekke (sien onder).
  • Modifikasies: Die enjin in die voertuig moet die oorspronklike enjin wees, of ’n vervanging met ’n enjin wat oorspronklik in die model beskikbaar was. ’n Toyota Corolla kan byvoorbeeld nie met ’n Skyline-enjin inskryf nie, al is beide enjins uit die era, was die Skyline-enjin nooit in die Corolla beskikbaar nie. Dieselfde geld vir moderne enjins (Lexusse en dies meer). As jy jou vering wil lig en groter wiele wil opsit, hou in gedagte dat daar met keuring tydens aankoms, beperkinge op jou deelname geplaas kan word wat sal beteken daar sal items wees waaraan jy nie mag deelneem nie. Dieselfde geld vir enjin-ombouings. Hierdie beperkings is finaal en die besluit berus by die organiseerders en beamptes. Dit is nie onderhewig aan bespreking nie. VETERANE wat voorheen deelgeneem het (3 Bull Runs of meer) en met omgeboude voertuie wil deelneem, sal ’n spesiale vergunning kry, maar mag ook onderhewig wees aan beperkinge.  
  • Die Tema: Jou tema kan snaaks, tong in die kies en kreatief wees, maar los asseblief politiek, geloof, ander kulture, vulgêre taal en beelde by jou gomgat-tjommies in die kroeg. Die doel is om jouself te geniet, en nie om ’n stelling te probeer maak wat iemand kan ontstel nie. As jy twyfel, kontak die organiseerders vir leiding.
  • Om te treiler, of om nie te treiler: Die reëls het in die verlede klem daarop gesit dat die kar self, onder eie stoom, tot in Van Wyksvlei moet kom. Daar was ook punte toegeken vir die hoeveelheid grondpad wat gery is (uit alle rigtings is dit ten minste 80km grondpad tot op VWV – jy gaan sukkel om daar te kom sonder om grondpad te ry). Dit is egter baie moeilik om te beheer en te kontroleer. As jy bekommerd is dat jou voertuig dit nie gaan maak tot daar en terug nie, bring gerus ’n sleepwa saam (na ’n week van Bull Run is Van Wyksvlei se mense uitgeput en jy mag dalk nie ’n slaapplek hê vir jouself as jy moet wag tot die kar weer loop nie.) Maar ons moedig almal aan om so veel as moontlik van die pad met jou ryding self te ry. Dis waar die gees en die ervaring begin. En dit gaan die bloeddruk van almal wat heelpad self met hulle karre ry laer hou. So as jy dit nie vir jouself en jou span wil doen nie, doen dit vir die mede-Bull Runners.
  • Die spanlede: Almal wil Springbokke wees, maar daar is net plek vir 15 ouens op die veld. Slegs spanlede wat as spanlede geregistreer is, en wat die gepaste kaartjies gekoop het, sal toegelaat word om enigsins op die pan of tydens ’n item in die kar te ry. GEEN TOESKOUERS word in die deelnemerskarre toegelaat nie. ’n Spanlid mag ook net saamkom indien hy/sy ouer as 18 is. Kinders is welkom, maar hulle moet dan saam met die toeskouers onder volwasse toesig beweeg – NIE IN DIE KARRE NIE. 

VEILIGHEID

Veiligheid:

  • Drink en bestuur: Dit word nie verdra nie. En al kon jy dalk in die verlede daarmee wegkom, sal ons jou hierdie jaar verbied om verder te bestuur as ons bevind dat jy onder die invloed is. Hou dit veilig en skoon vir almal.
  • Brandblusser: Elke voertuig moet ’n brandblusser hê wat iewers gemonteer is waar dit maklik bereikbaar is. Dit is nie opsioneel nie, maar verplig.
  • Maak vas: Alle passasiers moet te alle tye hulle veiligheidsgordels aanhê.
  • Beweging op die pan: Tydens Saterdag wat alle deelnemers en toeskouers op die pan is, sal die volgende reëls geld:
  • Deelnemerskarre sal glad nie in die toeskouerarea toegelaat word nie. As jy na die toeskouers wil gaan, kan jy onder begeleiding ry tot teen die wal voor die toeskouer area en jou kar daar parkeer in die aangewysde area. Jy kan van daar af stap na waar jy wil wees. Die toeskouerarea is nie ’n arena vir donut’s ens. nie.
  • Geen toeskouervoertuie op die pan nie. Die geleenthede vir toeskouers om die ander items te besigtig sal voorsien word, maar GEEN TOESKOUER kan self met sy eie voertuig op die pan rondry nie.
  • Geen deelnemers mag afsonderlik van hulle groep rondbeweeg nie. Daar gaan meer as een item wees wat op een slag aan die gang is. Die wat al daar was, weet hoeveel stof dit veroorsaak. As elke span toegelaat word om in hulle eie rigtings te skiet soos hulle wil, raak dit bitter-vinnig ’n fiasko. As jy wil beweeg, praat met ’n beampte wat jou sal help om die regte prosedure en roete te volg.
  • Geen donuts op die pan – onder geen omstandighede nie. Jy het een ou nodig om beheer te verloor en tussen bystanders in te rol, om dit vir almal sleg te maak. 

WAT OM TE VERWAG

Wat om te verwag:

Dis een ding om in jou kar te klim en Bull Run toe te kom, dis ’n heel ander ding om dit te geniet. En dis op die ou einde jou eie keuse. Jy kan al die pad kom, Van Wyksvlei toe piekel en kom kla oor elke klein dingetjie wat volgens jou verkeerd is, maar dan maak jy dit net vir jouself sleg. Daar is nie kragpunte vir almal nie, daar is baie stof, dis droog, dis warm, water is ’n probleem en om so groot kampterrein te onderhou en reg te kry is ’n groot taak. Veral vir ’n gemeenskap so klein soos Van Wyskvlei, wat almal nog eintlik ander werk het om te doen.

Dit word elke jaar beter, maar daar sal altyd ’n klein jakkalsies wees, en as jy weet hoe ’n Karoo-boer oor jakkalse voel, sal jy weet dat hulle dit wil oplos. So niks wat verkeerd gaan is doelbewus om jou om te krap nie, dit is maar net iets wat verkeerd gaan. Kom met die regte houding, en geniet jouself.

Jy het twee opsies vir verblyf. Jy kan kamp op die kampterrein in jou eie tent/karavaan/slaapsak, of jy kan een van die tente bespreek wat ook op die terrein is (wat dan beteken jy hoef nie self 'n tent op- en af te slaan nie). Toegang tot die kampterrein is ingesluit in jou inskrywingskoste, slegs die tentedorp se tente is 'n ekstra uitgawe. 

Die rowwe program vir die Bull Run loop elke jaar min of meer dieselfde, so dit is waarvoor jy jou kan voorberei.

  • Donderdag is aankoms en registrasie. Dit vat ’n hele dag om almal deur die hek, geregistreer en op die kampterrein te kry. En almal besluit mos altyd net voor sononder is die beste tyd om op te daag. Ons gaan voortaan ’n afsnypunt maak waarna ons niemand meer gaan registreer nie, en laat registrasies sal dan die volgende oggend gebeur. Dit sal dan ook ’n punte-boete behels wat die verskil tussen bragging rights, of kop in skaamte laat sak kan beteken.
  • Vrydag ry ons rally. Daar gaan ’n roete uitgelê word in die omgewing en meer inligting sal daaroor op die regte tyd aan jou gegee word. Jy gaan nie meer as 300 km op die dag ry nie, en jy sal ook rondom middagete weer terug in die terrein wees voor jy weer wegtrek op die res van jou rally. Vir die toeskouers wat agterbly gaan daar musikante wees wat optree, en so paar ander aktiwiteite ook om hulle te vermaak.
  • Saterdag is ons die hele dag op die pan. Daar gaan ’n hele klomp aktiwiteite wees om aan deel te neem, en die groepe gaan kleiner wees, so daar gaan meer kans wees vir spanne om te ry en minder stanery. Saterdagaand is die prysuitdeling en laaste kuier. Moenie daai ou wees wat Saterdagmiddag al begin huistoe ry nie – dis sleg om ’n prysuitdeling te hou (en daar is iets vir almal) en die krieke sing harder as die applous. Al is jy dikbek omdat jou pel vinniger as jy was, beteken dit nie noodwendig hy sal beter as jy vaar nie. Bly daar vir die pret en om te hoor watse nonsens Pierre hierdie jaar gaan praat.

Dit is basies dit. Dis drie volgepakte dae met baie om te doen, en baie pret om te hê, maar dis alles in jou hande of dit gaan pret wees of nie. As jy dit vir jouself lekker maak, dan sal dit vir jou lekker wees. Ons kan net vir jou die geleentheid gee, jy moet dit self gebruik. 

TERME EN VOORWAARDES IN 'N NEUTEDOP

1.     Koste: Die koste vir deelname beloop R8 700 per span (dit is die kar span se registrasie en twee deelnemers). Ekstra deelnemers meer as die twee wat reeds ingesluit is, beloop R3 000 per persoon. Die koste vir ondersteuners is R1 575 per persoon. Hierdie fooi sluit in jou toegang tot die terrein(e), jou kampplek op die terrein en jou braaipak (met bykosse) elke aand. Daar is hout, ys, ontbyt en middagete op die terrein beskikbaar vir jou eie rekening. 

2.     ‘n Gedeelte van hierdie geld word in ‘n fonds belê wat uitsluitlik gebruik word om die gemeenskap in en rondom Van Wyksvlei by te staan en op te hef.

3.     Dit is baie belangrik dat alle ondersteuners registreer. Anders sal hulle nie toegang tot die pan of skougronde/kamp kry nie.

4.     BAIE BELANGRIK!!! ’n Deelnemer is iemand wat in die Bull Run kar ry en aan die items deelneem. ’n Ondersteuner is iemand wat in ’n ander voertuig ry en langs die kant staan en kyk. Deelnemers is die span wat op die veld draf, Ondersteuners is die cheerleaders en ouens wat langs die kant op die pawiljoene sit.

5.     DAAR SAL GEEN TOESKOUER VOERTUIE OP DIE PAN TOEGELAAT WORD BUITE DIE TOEGEWYSTE PARKEERAREA NIE. Selfs al kom jy hoe ver om teen jou vriende te kom drag race, as jy nie ‘n betalende deelnemer is nie, sal jy slegs jou kar op die pan kan parkeer, en verder te voet kan beweeg op toegewysde roetes of as daar ’n pendeltuigdiens is, kan jy daarvan gebruikmaak. GEEN UITSONDERINGS EN GEEN BESPREKINGS NIE!

6.     As organiseerders behou ons die reg voor om enigiemand ter enige tyd van die pan te laat verwyder, want dit is privaatgrond, en het die Van Wyksvlei-polisie en eienaar van die pan se samewerking hierin.

7.     Elke deelnemer en passasier in die voertuig moet ’n geldige rybewys hê en dus ouer as 18 jaar wees. Kinders is welkom, maar moet saam met die ondersteuners onder volwasse toesig rondbeweeg. Jou kinders is jou verantwoordelikheid, as jy nie so ’n reëling kan tref nie, maak dan ’n plan, maar kinders onder 18 word nie in die karre toegelaat nie.

8.     As jy instem om deel te neem aan die Weg Ry & Sleep Bull Run, stem jy in dat dit ’n uitstappie vol pret is en dat die klem nie noodwendig op mededinging val nie, maar eerder op hoeveel jy dit geniet. Die pret van die Bull Run kom van die deelnemers, nie die organiseerders nie.

9.     Pryse (indien enige) word toegeken volgens die organiseerders. Geen deelnemer is geregtig op enige prys nie, dit is nie waaroor die Bull Run gaan nie.

10.  Daar sal ook weer hierdie jaar ’n tentedorp wees wat opgeslaan word sodat deelnemers slegs ’n slaapsak en ’n kussing hoef te bring. Jy is nie verplig om hiervan gebruik te maak nie, en jy kan steeds op jou eie kamp.

11.  Die voorgeestelsel (Handicap) werk as volg:

a.               Elke span word punte toegeken vir hoe hulle aan die vereistes vir deelname voldoen. Die punte word toegeken vir die kar se enjingrootte, jaarmodel, waarde, tema en die span se gees, maar is nie beperk tot dit nie.

b.               Uiteindelik is daar ’n punt met ’n maksimum van 100.

c.               Vir elke item waaraan jy deelneem word ’n punt toegeken (spanne word gerangeer volgens hulle vertonings by die items) en die punte word saamgetel.

d.               Jou voorgee word dan op hierdie punt toegepas as ’n persentasie. As jou voorgee byvoorbeeld 60 is, kry jy dan 60% van jou punte.

e.               Dit is dan die punte waarop die finale rangorde bepaal word.

12.  Deelnemers word versoek om alle insittendes se naam op die kar te skryf onder die venster waar die persoon gaan sit. Die voertuig se ouderdom moet ook op die kar geplak of geskryf word (voorste modderskerm aan die bestuurderskant) en ook die waarde van die voertuig. Indien jy dus die waarde van jou voertuig uit jou duim uit suig, sal ander deelnemers dit gou agterkom. Dit sal steeds ook jou voorgee negatief beïnvloed. As hierdie nie op die regte plekke aangebring is nie, kan jy voorgeepunte verloor.

13.  Drankgebruik ten tyde van deelname word ten sterkste afgekeur en spanne wat skuldig gevind word sal gediskwalifiseer word en nie toegelaat word om verder te bestuur nie. Deur te drink en bestuur oortree jy nie net die wet nie, maar stel jy ook jou eie lewe en die van ander deelnemers, ondersteuners en toeskouers in gevaar. Daar sal sporadiese alkoholtoetse gedoen word.

14.  Die besluit van die organiseerders oor enige aspek van die Bull Run, in oorleg met die redakteur van Weg Ry & Sleep, die uitgewer en Media24, is finaal en geen gesprekke sal daaroor gevoer word nie.

15.  Weens die inherente risiko van so baie deelnemende voertuie is dit belangrik dat alle deelnemers tydens die Bull Run die aanwysings en opdragte van die organiseerders en beamptes gehoorsaam.

16.  As jy jou inskrywing wil kanselleer, moet jy die versoek skriftelik aan die organiseerders rig ten minste 30 dae voor die aanvang van die byeenkoms. Slegs dan sal jy in aanmerking kom vir ’n terugbetaling van jou inskrywingsfooie. As dit binne 30 dae voor die aanvang van die byeenkoms is, kan jy jou inskrywingsfooie verbeur.  

DIRECTIONS

Weg Ry & Sleep Bull Run 2023
Van Wyksvlei
Vanwyksvlei, 8922, South Africa
Get Directions