No under 16s

Neil Sandilands & Die Band! Rustique Boutique Hotel, Middelburg, Mpumalanga, 21 July, 19:30

Fri Jul 21, 20:00 - Fri Jul 21, 23:00

Rustique Boutique Hotel

ABOUT

Neil Sandilands & Die Band! Rustique Boutique Hotel, Middelburg, Mpumalanga, 21 July, 19:30


Lekker ou Frik! Ons is bokvetblink opgewonde om daar by julle te kom note gooi! Hierdie ryk, anderwêreldse vertoning bied van die mees begaafde musici wat ons pragtige land in aanbod het, en met die onkonvensionele, rasperige, aweregse Neil Sandilands aan’t stuur van sake, is jy in vir ’n ding! 


Die “Neil Sandilands Gedoente” bring instrumente, blikke en sakke vol truuks na ’n opstal daar naby jou, van die 1ste Julie tot die 22ste Julie, 2023.


Sandilands toer hierdie winter noordwaarts vanaf die Overstrand, al die pad tot in Mpumalanga en Limpopo. Die ander musikante saam met die wavrag is die bekende baskitaarspeler Schalk Joubert, die kitaarspeler Frank Freeman en hun Ingilsman (darem met Ierse bloed), Ronan Skillen, op perkussie. Hy slaan enige ding van ’n crankshaft tot ’n Indiese tabla en als tussenin.


Neil Sandilands is deesdae orals. Ons onthou hom natuurlik meestal as “Bart” van 7de Laan, maar die man het selfs Hollywood op sy manier gaan aandurf, en ’n uitklophou gepot. Sweet Tooth Seisoen 2 tans op Netflix, waar hy die rol van die booswig “General Douglas Abbott” vertolk, is nog vars in die geheue en daarbenewens het hy sommer sy tweede vollengte album “Allegaarkie vir ’n Askeet” uitgereik. Snitte soos “Huistoe”, “Stilte wat Raas” en “Kômmôsêdiesê” speel oor die luggolwe en moenie van die wonderlike liedjie “Woestynroos” vergeet, wat hy vir die uitmuntende M-Net reeks “Desert Rose” geskryf het nie. Dis als deel van die uitvoering.


Sy vorige toer “Woorde en Akkoorde na die Noorde” het gehore gaande gehad en Afrikaanssprekendes wyd-en-suid het gevra vir nog. Hier is die geleentheid nou!


Die boksemdaais bestaan uit werke vanaf al Sandilands se albums: Die SAMA-benoemde “Sangoma Sandilands & Jou Pa se Posse”, “Die Groot 5”, “Die Groot Niks” asook die nuwe album “Allegaarkie vir ’n Askeet”. Hy deel tussenin stories en kwinkslae uit sy lewensverhaal, wat begin het langs die mynhope van Randfontein, gaan draai het in ver plekke soos die eiland Kuaui, Nieu Seeland, New York, Vancouver, Sunset Boulevard, die Namibwoestyn, Namakwaland en ja, sommer nou daar by jou ook. Hierdie toer word deel van sy storie.


Vra maar vir enige iemand wat al een van die besonderse vertonings beleef het; dis soos daai tweede koppie sawwelyf. Dit maak inderdaad die lewe bietjie meer draaglik. Mens beleef die hele spektrum van emosies by een so ’n vertoning en voel ietwat ryker vir die belewenis. Dis presies wat die dokter aanbeveel het vir juis hierdie winter van loadshedding, kranksinnigheid en allerande aapstreke. Sien jou daar, by Neil Sandilands se Wintertoer! Kaap tot Mpumalanga. Vatvas!

DIRECTIONS

Neil Sandilands & Die Band! Rustique Boutique Hotel, Middelburg, Mpumalanga, 21 July, 19:30
Rustique Boutique Hotel
Old Belfast Road (R104) , Rondebosch, Riverside Estate, 1050
Get Directions